Let wel- engelse woorde en streektaal staan kursief.
1. Die storie in goeie Afrikaans
‘n Emmer tande vir ‘n hospitaal holbekke
In ’n hospitaal - waar krankheid
en ellende nie ontuis is nie - smaak dit my is snaaksigheid ook nie juis ’n
vreemdeling nie.
En snaaks is mos nêrens snaakser
as dáár waar hy nie verwag word nie. Veral as hy boonop sommer bloot net
gebeur, of onvermoeds gebeur laat word.
Iets van dié aard het daar
op ’n keer in ’n Randse hospitaal plaasgevind.
Daar daag ’n leerlingverpleegstertjie op. En hoe die prosedure presies werk, weet ek nie,
maar om haar touwys te maak, moes sy glo allerlei soorte werkies doen.
Dit moet saam met die
ander groentjies op ’n sekere vloer beddens opmaak, potte en panne leeg maak, waterglase
vol maak, en so aan.
So met verloop van tyd kom
daar nuwe en ingewikkelder opdragte by.
Op ‘n môre roep die ou hoofsuster
daar in een van die gange af : “Hêi, jy,”
-nursie-sus-en-so- kom hier!”
“Ja suster?” vra die leerlingverpleegstertjie.
“Vat nou hierdie vloer van
‘n kant af en maak al die mense wat valstande het, se tande skoon. Al die gange
s’n.”
En toevallig was daar op
dié vloer baie oumense.
En die verpleegstertjie
vaar ‘n gang daar af.
In die eerste kamer, of
saal, is daar 3 glase tande. Dié vat sy
soos ’n wafferse kelner wat sy storie met bierdra ken en stryk daarmee aan na
die kombuisietjie of wasplek, en sy
spring daar by die wasbak aan die tande.
Waarmee en hóé weet ek
nie, maar sy maak skoon en sy sit die stelle terug in die glase en gooi skoon
water in, en wikkel daarmee na hulle ou drie holbekbase toe.
In die volgende saal is daar ’n stuk of vyf
mense met kunstande.
En dié klomp glase is toe
te veel om met een slag te dra. Maar die verpleegstertjie is ’n praktiese kind
en sy los hulle net so en sy begeef haar na die kombuis toe en kry daar ’n
emmer in die hande. Dié maak sy so amper halfpad vol water en sy’s weer die
gang af.
Die emmer sit sy voor die
deur neer en sy’s die saal daarin, en sommer so twee-twee dra sy die glase
tande daar uit en gooi die stelle in die emmer water en gaan sit die leë glase weer
by hulle-se base neer.
So maak sy saal vir saal
in die gang af leeg en pak daarna die sygange.
Na ’n ruk wil die emmer oorloop.
Sommer in die naaste badkamer gooi sy ’n klomp van die water af om plek te maak
vir nóg tande.
Uiteindelik het sy die
hele vloer se alle stelle tande in die emmer.
En dit was ook net-net of
die emmer was te klein.
In die waskamer tap sy ’n
klomp water in die bak en keer die emmer daarin om.
Dié maak sy op sy beurt so
’n kwart-vol skoon water en sit dit eenkant neer, en val met die skoonmaak weg.
Plaat vir plaat tande vat sy so ligweg in
die wasbak raak, en gooi dit in die emmer.
Nie lank nie, of die hele
emmer tande is skoon.
En toe sal die stomme kind
sien die een praktyk bots met die ander praktyk….
Waffer onderstel
pas by waffer bo-stel… en waffer heel stel by waffer bed in waffer
saal?
… en dan’s daar nog ’n
probleem: party mense het net bo- en ander net ondertande; party weer ’n halwe
plaat met hake en twee tande, of drie,
of vier of hoeveel tande dan ook. In wie se haasbekgetrekte mond pas wat?
Sy wonder nog “hoe nóú?”,
toe staan die ou hoofsuster langs haar.
“Het jy klaar met die
tande?”
“Ja, Suster, ek is klaar,
maar ek het nou moeilikheid. Ek verdwaal tussen hierdie klomp tande.”
“Nou wie’t so blerrie klomp tande in sy mond?”
“Dis die hele vloer s’n, Suster!”
Wat die hoofsuster hierna
gesê het pas nie juis by tande en monde nie. Maar daar was nie genade nie; die
ontbyt was op pad!
Hulle pak die hele
spulletjie tande op ’n tafel uit en probeer soek bo- en ondermaters wat by
mekaar pas.
Maar dis moeilik om uit te
maak watter groottes en skeeftes en kleure by mekaar hoort; dit wissel van
pêrelwittes tot pruimtwakbruines, van kleintjies soos ’n muis s’n tot by
beitels soos dié van ’n perd, van yslike bakke tot dié wat hoort by ’n verkrimpte
gesiggie.
Hulle kry ’n klomp
uitgesoek wat lyk na pare, en ’n groot klomp enkeles bly oor.
In ’n horde hospitaalglase
word hulle op ’n trolley gesit.
“Toe, stoot die spul van
saal tot saal en laat die mense self uitsoek, laat hulle kan eet; ek stuur die kos
op jou hakke agterna!”
En die verpleegstertjie
vlie(g) daar weg.
Daar word gekies, maar as
die een holbekmens nog spook om sy tande in te kry, skoert die verpleegstertjie
al na die volgende een toe.
Alles geskied in die haas.
En die mense kry kos en
hulle val weg.
Party worstel voort; party
ander haal die tande uit en ry- soos die Rehoboth-Basters in my wêreld sou sê -
op die rims.
Maar die borde was nog nie
behoorlik weg nie, toe begin lui die klokke.
Dit smaak omtrent na Oujaarsnag om twaalfuur uur in ‘n groot stad.
Die ou hoofsuster sê vir
die ander susters en die verpleegsters sy wil self die klagtes aanhoor en dan
verduidelik en besluit wat om te doen.
En sy loop ’n kamer in
waar twee omies lê.
Ja, waarmee kan sy help? Die
klok is mos gelui.
“Suster, wat met my tande
gebeur het, weet ek nie. Dit smaak my of ek vanmôre met ’n paar skeeftgetrapte
skoene probeer kou het”, beduie die een ou.
Die ander een sê: “Suster,
was myne maar soos ’n paar skeefgetrapte skoene. Ek het om my brekfiseiertjie ’n dans uitgevoer, jy
kan sê met ’n nommer-vyf-pantoffel en ’n nommer-elf-army-boot”.
“Haal uit!” sê die
hoofsuster. “Daar moet ’n fout gekom het.
Ek sal hulle nóu laat wegvat.”
Sy is nog aan die inloop
in die volgende saal, toe begin praat ’n ou tante al: “Ai my kind, ek was dan
nou net aan die beter word, en nou voel ek so mismoedig. Dis kompleet of my
bo-kop gekrimp het. My tandvleis kom nie in die gleuf van my tande in nie. Ek byt
al op die bo-plaat se verhemelte langs.”
’n Ander een kla dat sy
met haar onderkakebeen buite die stelletjie om byt.
“Suster, ek had aanmekaar die tande en die kos
deurmekaar, dit was op ’n nerf na, of ek sluk die hele spulletjie in.”
“Nee, daar’s fout!” beduie
die hoofsuster. “Gee net kans, dan kom die ding reg”.
In ’n ander saal het ’n ou
oom sy tande uit en hy korrel om te probeer uitmaak wat hy sien.
“Suster, ek het nie my
leesbril hier nie, maar dis die hardste eier wat ek in my leefdag geëet het. Ek
het ’n stuk tussen my tande ingebyt en ek kan hom nou wragtig nie uitkry nie”.
“Dis loutere goud, Oom!” sê
die hoofsuster ná sy self van naby gekyk het.
Die oubaas is daaroor meer
vies as wat hy sou wees as hy moes weet dat hy met geleende tande geëet het.
“Maar ek het mos nie gevra julle moet goud
daar insit nie?”
“Wag, Oom, dit kom nou-nou reg! Ek laat haal
die stukkie goud weer uit!”.
Die volgende kamer se patiënt
het nie die ontbyt heelhuids oorleef nie.
“Suster, jy moet vir my hier ’n dokter kry om my tong
te lap. Hy’s so toiingrig, soos ’n sak waarmee ’n klomp kleinhonde ’n nag
omgespeel het.
“Ek kon vanmôre byt soos
ek wil, maar dit bly verkeerd”.
Die suster beloof verligting!
Langsaan gaan dit insgelyks
nie beter nie.
“Suster, my troue ou
malers het vanmôre die gees gegee. Dit smaak my die nursie het hulle skoon gekook en toe in ’n trek neergesit laat
hulle kon afkoel! Kyk hoe oorhoeks is hulle. Ek kou dat ek bars, maar ek kry
nooit meer as net twee tande op ’n slag bo mekaar nie!”.
“Net ‘n bietjie geduld, en
die oorhoeksheid is daarmee heen!”, beduie die hoofsuster.
En so sluit die een treurmare
by die ander aan.
Een ou tante probeer haar mond
toe kry, maar sy bly glimlag van oor tot oor.
’n Ander se lippe vou
rolle voor sy nog die tande opmekaar het.
Nog een lyk of sy haar
kieste opgeblaas het.
’n Ander een se gesig is
skeef.
Een ou oom het niks in sy
mond nie.
“Waar is die tande dan
vanmôre, oupa?” wil die suster weet.
“Jy moet maar hier op die
vloer in die blik kyk. Ek het hulle weggesmyt! Ek het van die vervloekste goed
nog net pyn en smarte gehad van die dag dat ek hulle gekry het, maar vanmôre is
hulle meer erg. Toe sê ek: Dis die laaste, weg is julle! ”.
Sy ou kamermaat sê: “Ja,
en myne voel vanmôre soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek
is lus en raak van hulle ook ontslae”.
Nou ja, dit was al teen middagete
se stryk, toe spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om
vir party van die stelle tande base te kry. “
Toe sê die
leerlingverpleegster : “Suster, vandag het ek baie geleer! Ek sal môre slimmer
wees. Ek sal eers al die bo-tande was; dan kan ek mos op die ondertande pas waffer die regte is. En dan vat ek weer
die ondertande”.
“Ja” sê die ou hoofsuster, “ek het ook vandag iets
geleer, en dis dat jy liewer in ’n hotel moet loop werk soek, waar jy kan
skoene skoonmaak, want as hulle deurmekaar raak, hoef hulle darem nie ná elke aanpas
gewas te word nie!”.
2. Die storie soos dit
voorgelees word:
NB dit is geskryf deur iemand uit Suidwes, 'n streek waar afrikaans anders uitgespreek word, baie plat, en hulle ry op die klanke.
In ’n hospitaal - waar krankheid en ellende nie
ontuis is nie -
smaak dit my is snaaksigheid ook nie juis ’n
vreemdeling nie.
En snaaks is mos nêrens snaakser as daar waar hy
nie verwag
word nie; veral as hy boonop sommer bloot net
gebeur, ofonver—
moeds gebeur laat word.
Iets van die aard het daar op ’n keer in ’n
Randse hospitaal
plaasgevind.
Daar daag ’n leerlingverpleegstertjie op. En hoe
die prosedure
presies werk, weet ek nie, maar om haar touwys
te maak, moes sy
glo allerlei soorte werkies doen.
Dit moet saam met die ander groentjies op ’n
sekere vloer beddens
opmaak, potte en panne leeg maak, waterglase vol
maak, en so
aan.
En so met verloop van tyd kom daar nuwe en
ingewikkelder op-
dragte by.
Op ’n more roep die ou hoofsuster daar in een
van die gange af:
“Hêi, jy,” - nursie-sus-en-so- “kom hier.”
“Ja, Suster?” vra die leerlingverpleegstertjie.
“Vat nou hierdie vloer van ’n kant af en maak
allie mense wat
valstanne het, se tanne skoon. Allie gange s’n.”
En toevallig was daar op die vloer baie oumense.
En die verpleegstertjie vaar ’n gang daar af.
In die eerste kamer of saal is daar drie glase
tande. Dié vat sy soos
’n wafferse kelner wat sy storie met bierdra ken
en stryk daarmee
aan na die kombuisietjie of wasplek en sy spring
daar by die was-
bak aan die tande. Waarmee en hóé weet ek nie,
maar sy maak
skoon en sit die stelle trug in die glase en
gooi skoon water in en
wikkel daarmee na hulle ou drie holbekbase toe.
In die volgende saal is daar ’n stuk of vyf
mense met kunstande.
En dié klomp glase is toe te veel om met een
slag te dra.
Maar die verpleegstertjie is ’n praktiese kind
en sy los hulle net so
en sy begeef haar na die kombuisie toe en kry
daar ’n emmer in die
hande. Dié maak sy so amper halfpad vol water,
en sy’s weer die
gang af.
Die emmer sit sy voor die deur neer en sy’s die
saal daar in en
sommer so twee-twee dra sy die glase tande daar
uit en gooi die
stelle in die emmer water en gaan sit die leë
glase weer by hulle-se
base neer.
So maak sy saal vir saal in die gang af leeg en
pak daarna die
sygange.
Na ’n ruk wil die emmer oorloop.
Sommer in die naaste badkamer gooi sy ’n klomp
van die water af
om plek te maak vir nog tande.
Uiteindelik het sy die hele vloer se alle stelle
tande in die emmer.
En dit was ook net-net of die emmer was te
klein.
In die waskamer tap sy ’n klomp water in die bak
en keer die
emmer daarin om.
Dié maak sy op sy beurt so kwart-vol skoon water
en sit dit een-
kant neer, en val met die skoonmaak weg.
Plaat vir plaat tande vat sy so ligweg in die
wasbak raak, en
gooi dit in die emmer.
Nie lank nie of die hele emmer tande is skoon.
En toe sal die stomme kind sien die een praktyk
bots met die
ander praktyk. .
Waffer onderstel pas by waffer bo-stel en waffer
heel stel by waffer
bed in waffer saal?
En dan’s daar nog ’n probleem: party mense het
net bo- en ander
net ondertande; party weer ’n halwe plaat met
hake en twee
tande, of drie, of vier of hoeveel tande dan
ook. In wie se haas-
bekgetrekte mond pas wat?
Sy wonder nog hoe nóú, toe staan die ou
hoofsuster langs haar.
“Het jy klaar met die tanne?”
“Ja, Suster, ek is klaar, maar ek het nou
moeilikheid. Ek verdwaal
tussen hierdie klomp tanne.”
“Nou wie’t so ’n bleddie klomp tanne in sy
mond?”
“Dis die hele vloer s’n, Suster.”
Wat die hoofsuster hierna gesê het, pas nie juis
by tande en
monde nie. Maar daar was nie genade nie; die
ontbyt was op pad.
Hulle pak die hele spulletjie tande op'n tafel
uit en probeer soek
bo- en ondermaters wat by mekaar pas.
Maar dis moeilik om uit te maak watter groottes
en skeeftes en
kleure by mekaar hoort; dit wissel van
pêrelwittes tot pruimtwakbruines, van kleintjies soos'n muis s'n tot by
beitels soos dié van 'n perd, van yslike bakke tot dié wat hoort by'n
verkrimpte gesiggie.
Hulle kry'n klomp uitgesoek wat lyk na pare,
en'n groot klomp
enkeles bly oor.
In 'n horde hospitaalglase word hulle op'n
trollie gesit.
“Toe, stoot die spul van saal tot saal en laat
die mense self uitsoek,
lat hulle kan eet; ek stuur die kos op jou hakke
agterna.”
En die verpleegstertjie vlie daar weg.
Daar word gekies, maar as die een holbekmens nog
spook om sy
tande in te kry, skoert die verpleegstertjie al
na die volgende een
toe.
Alles geskied in die haas.
En die mense kry kos en hulle val weg.
Party worstel voort; party ander haal die tande
uit en ry - soos die
Rehoboth-Basters in my wêreld sou sê - op die
rims.
Maar die borde was nog nie behoorlik weg nie,
toe begin lui die
klokke. Dit smaak omtrent na Oujaarsnag om
twaalfuur in 'n
groot stad.
Die ou hoofsuster sê vir die ander susters en
die verpleegsters sy
wil self die klagtes aanhoor en dan verduidelik
en besluit wat om
te doen.
En sy loop'n kamer in waar twee omies lê.
Ja, waarmee kan sy help? Die klok is mos gelui.
“Suster, wat met my tanne gebeur het, weet ek
nie. Dit smaak my
of ek ve'môre met'n paar skeefgetrapte skoene
probeer kou het,”
beduie die een ou.
Die ander een sê: “Suster, was myne maar soos 'n
paar skjeefgetrapte skoene. Ek het om my brekfiseiertjie 'n
dans uitgevoer, jy
kan sê, met 'n nommer-vyf-pantoffel en 'n
nommer-elf-army-
boot.”
“Haal uit!” sê die hoofsuster. “Daar moet 'n
fout gekom het; ek sal
hulle nóú laat wegvat.”
Sy is nog aan die inloop in die volgende saal,
toe begin praat 'n ou
tante al:
“Ai, my kind, ek was dan nou net aan die beter
word, en nou voel
ek so mismoedig. Dis kompleet of my bo-kop
gekrimp het. My
tandvleis kom nie innie gleuf van my tanne in
nie; ek byt al op die
bo-plaat se verhemelte laans.”
'n Ander een kla dat sy met haar onderkakebeen
buite die stelle-
tjie om byt.
“Suster ek had aanmekaar die tanne ennie kos
deurmekaar. Dit
was op nerf na of ek sluk die hele spulletjie
in.”
Nee, daar's fout, beduie die hoofsuster. Gee net
kans, dan kom die
ding reg.
In 'n ander saal het 'n ou oom sy tande uit en
hy korrel om te pro-
beer uitmaak wat hy sien.
“Suster, ek het nie my leesbril hier nie. Maar
dis die hardste eier
wat ek in my leefdag geëet het. Ek het 'n stuk
tussen my tanne in-
gebyt en ek kan hom nou wragtag nie uitkry nie.”
“Dis loutere goud, Oom,” sê die hoofsuster ná sy
self van naby
gekyk het.
Die oubaas is daaroor meer vies as wat hy sou
wees as hy moes
weet dat hy met geleende tande geëet het.
“Maar ek het mos nie gevra julle moet goud daar
insit nie.”
“Wag, Oom, dit kom nou-nou reg; ek laat haal die
stukkie goud
weer uit.”
Die volgende kamer se pasiënt het nie die ontbyt
heelhuids oorleef
nie.
“Suster, jy moet vir my hier 'n dokter kry om my
tong te lap. Hy”s
so toiingrig soos 'n sak waarmee 'n klomp
kleinhonne 'n nag
omgespeel het.
“Ek kon vammôre byt soos ek wil, maar dit bly
verkeerd.”
Die suster beloof verligting.
Langsaan gaan dit insgelyks nie beter nie:
“Suster, my troue ou malers het ve'môre die
gjees gegjee.
“Dit smaak my die nursie het hulle skoon gekook
en toe in 'n trek
neergesit lat hulle kon afkoel.
“Kyk hoe oorhoeks is hulle. Ek kou lat ek bars,
maar ek kry nooit
meer as net twee tanne op 'n slag bo mekaar
nie.”
Net 'n bietjie geduld en die oorhoeksheid is
daarmee heen, beduie
die hoofsuster.
En so sluit die een treurmare by die ander aan.
Een ou tante probeer haar mond toe kry, maar sy
bly glimlag van
oor tot oor.
'n Ander se lippe vou rolle voor sy nog die
tande op mekaar het.
Nog een lyk of sy haar kieste opgeblaas het; 'n
ander een se gesig
is skeef.
Een ou oom het niks in sy mond nie.
“Waar is die tanne dan vanmôre, oupa?” wil die
suster weet.
“Jy moet maar hier op die vloer in die blik kyk.
Ek het hulle
weggesmyt. Ek het vannie vervloekste goed nog
net pyn en smarte
gehad vannie dag lat ek hulle gekry het. Maar
vanmôre is hulle
meer erg. Toe sê ek: Dissie laaste; weg is
julle.”
Sy ou kamermaat sê: “Ja, en myne voel ve'môre
soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek is lus
en raak van hulle ook ontslae.”
Nou ja, dit was al teen middagete se stryk, toe
spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om
vir party van die stelle tande base te kry.
Toe sê die leerlingverpleegster: “Suster vandag
het ek baie
geleer. Ek sal môre slimmer wees. Ek sal eers
allie bo-tanne was;
dan kan ek mos op die onnertanne pas waffer die
regte is. En dan
vat ek weer die onnertanne.”
“Ja” sê die ou hoofsuster, “ek het ook vandag
iets geleer, en dis
lat jy liewer in 'n hotel moet loop werk soek,
waar jy kan skoene
skoonmaak. Want as hulle deurmekaar raak, hoef
hulle darem nie
ná elke aanpas gewas te word nie.”