Ek het nog net van Lotte teks gekry... moenie dit vir die laaste dae los nie, want dit sal heelwat heen en weer gestuur moet word vir verbeteringe.
Ek gee jou wel aanwysinge, maar jy moet self die foutjies uithaal.
zaterdag 30 januari 2016
dinsdag 26 januari 2016
Die woord '' ou "
Ons het die woord 'ou' in die laaste les gesien in die verhaal "Ryloop met 'n woonwa", en ek het beloof om daarop terug te kom.
As selfstandige naamwoord is dit 'n maklike woord om te vertaal.
dit beteken: vriend, jongen.
Maar as dit as byvoeglike naamwoord word gebruik is dit lastiger.
Ek het self ook gedink aan die engelse uitdrukking 'good old times'.. wat hier nie spesifiek 'oud' beteken nie.
Die woord is nie (maklik) te vertaal na Nederlands nie.
Dus sal ek dit vir julle verduidelik in sinne/ 'n storie :
1. Dit kan 'n soort troetelwoordjie wees voor 'n naam van 'n persoon; díé persoon (hoender, hond ens) is dan 'n dierbaar iemand vir die spreker. (sien die verhaal van 'my mense' bv. ou Piet)
2. Verder natuurlik as dit 'oud' beteken, bejaard. 'Die ou tante is al 88 jaar oud. (hier beteken tante dus 'n regte tante, suster van jou pa of ma)
3. Of dit word gebruik om teleurstelling of moedelose verdraagsaamheid uit te druk. Vergelyk hiervoor die verhaal wat ons in die laaste les gelees het.
4. In 'n sin soos 'My ou seuntjie is hartseer' dui dit op bejammering/simpatie/meegevoel.
As selfstandige naamwoord is dit 'n maklike woord om te vertaal.
dit beteken: vriend, jongen.
Maar as dit as byvoeglike naamwoord word gebruik is dit lastiger.
Ek het self ook gedink aan die engelse uitdrukking 'good old times'.. wat hier nie spesifiek 'oud' beteken nie.
Die woord is nie (maklik) te vertaal na Nederlands nie.
Dus sal ek dit vir julle verduidelik in sinne/ 'n storie :
1. Dit kan 'n soort troetelwoordjie wees voor 'n naam van 'n persoon; díé persoon (hoender, hond ens) is dan 'n dierbaar iemand vir die spreker. (sien die verhaal van 'my mense' bv. ou Piet)
2. Verder natuurlik as dit 'oud' beteken, bejaard. 'Die ou tante is al 88 jaar oud. (hier beteken tante dus 'n regte tante, suster van jou pa of ma)
3. Of dit word gebruik om teleurstelling of moedelose verdraagsaamheid uit te druk. Vergelyk hiervoor die verhaal wat ons in die laaste les gelees het.
4. In 'n sin soos 'My ou seuntjie is hartseer' dui dit op bejammering/simpatie/meegevoel.
woensdag 20 januari 2016
Presentasie vir les 5
Onthou- hierdie is riglyne.... jy mag self toevoeg, maar ook kies om sommige dinge wat ek hier genoem het, oor te slaan.
Stel jouself voor.
- naam, leeftyd, gebore in, waar jy bly, hoeveel kinders julle
is by die huis, stokperdjies, ken jy iemand in SA.
Studierigting.
hoekom het jy die rigting
gekies, wat hoop jy te bereik, moeilike dinge in hierdie beroep, mooi dinge in
hierdie beroep,
steekwoorde:
AGHS (AIDS),geestesgesondheid,geestessteuring,
gemoedsteurings, jongmense, leefwêreld, leergestremdheid, maatskaplike werk, maatskaplike
werker, pedagogiek, psigiatrie, psigolgiese,
psigopedagogiek, sielkunde,
sosiale werker, sosiologie,
verslawing, volwassene, waardes, welsyn, werklikheid, wordingspedagogiek,
Proefloop in Suid Afrika.
Woonplek in SA, waar is tehuis, tipe tehuis, hoe lank,
rede vir keuse Suid Afrika, wat is jou verwagtinge, wat hoop jy te leer,
Afrikaans.
Hoekom jy gekies het om Afrikaans
te leer , waar jy dit geleer het, was dit moeilik, kan jy dit al goed praat,
wat sou jy nog meer wil leer,
Vervoer.
Gaan jy ’n kar huur, is
dit duur? , linksry, moet jy na die
tehuis toe ry? , kar gehuur vir net vakansie?, hou jy van karry?
Vakansie.
planne, waarnatoe, hoe
lank, hou jy van die see, hou jy van warm weer? (miskien in vergelyking met die
weer in Nederland)
Veiligheid.
Uitgaan, restaurant, aand,
oordag, langs die pad,
dinsdag 12 januari 2016
My mense - storie op Kortom RSG.
Link na storie: http://iono.fm/e/38127
20130205_KORTOM my mense
HOENDERS = KIPPEN
Dat hoenders ook my mense is,
het ek eers na my troue ontdek, toe ons jonk en onervare gaan boer het.
Jong boervroue begin almal
op dieselfde manier met hoenders boer en brei daarna ooreenkomstig hulle aard en
omstandighede verder uit.
Party hoenderboerderye raak
al groter en groter tot hulle betalende ondernemings word; ander raak al kleiner
en kleiner tot die boervrou in krisistye by die strooisel laat eiers haal.
’n Vrou begin met hoenders
boer, deur by haar man daaroor te neul. So het ek ook begin. My man het teëgestribbel,
want dit is bekend dat ’n hoenderhen twee keer soveel kos van die baas opvreet as
wat sy geld vir die nooi inbring, maar dit is ’n feit wat geen boervrou ooit
van ’n hoenderboerdery afskrik nie.
Eindelik het ek dan n kuikenhuis
kompleet met ’n glasvenster en ’n ordentike sifdraadkampie daaromheen,
uitgeneul, en my kuikens bestel.
“Bestel net die beste.
want hulle eet net soveel as die slegste” gee party buurvroue my raad.
“Bestel net die swakste want
die beste vrek net so maklik soos hulle” raai ander my aan.
My kuikens kom!!
Net die koms van my babas
later kon so veel opwinding en geesdrif oortref. Ek het ure in die bedompige
huisie saam met hulle deurgebring, om te sorg dat hulle gemaklik is.
Ek het drome gedroom en
gesigte gesien.
Toe ek my kom kry begin ek
sekeres uitken.
Toe ek my kom kry het ek
’n paar knieseriges in watte voor die stoof en voer hulle antibiotika met ’n
oog druppertjie.
Toe ek my kom kry is party
so mak, hulle eet uit my hand.
Ek gee hulle name: Ou Skewes,
ou Vlekkie, ou Ogies, ou Piet.
As ek vir hulle sing, lag
hulle.
As ek met hulle raas, druk
hulle hulle snawels van skaamte in die kos.
Hulle spring op my skoen
se neus en klou heeltyd aan my kouse vas as ek loop.
Hulle dink ek is hulle ma,
so waar as wat ek leef!
Dit was toe reeds vir my
man duidelik dat my hoenderboerdery in een van die onbetalende soort gaan
ontaard; die persoonlike soort wat die hoenders sulke vriende van jou word dat
jy nie kan verwag hulle moet nog vir jou eiers ook lê nie.
Dit het my glad nie
ontstel nie: daar sal tog dan en wan
iets vir ontbyt wees, en hulle kosrekening sou ek nog lank met mislukte koeke en
verbrande pampoen onder beheer kon hou.
So speel-speel het dit voortgegaan.
Tot ’n middag vroeg in Desember,
toe my hoenders net mooi uit hulle babavere gegroei het, njap-njap kuikens geword het, soos my buurvrou sê; darem al hoender
maar nog nie eier nie (ze zijn al wel kip maar leggen nog geen eieren)
Die weer kom die middag toe
so lelik aan. Ons het skaars die vensters en deure toe, die reënwater-tank oop en
die wasgoed van die draad,
of die eerste haelkorrels val oor die werf of hulle met die hand gesaai
word. Dit word pikdonker in ons platdakhuisie.
Gelukkig dat die hoenderhuisie daar is, dag ek nog, nou is my hoenders
darem veilig!
Een van die eienaardighede van ons toentertydse huis wat so teen die afdraand
gesit het, was dat as die reën straf kom, die water bo-oor die afleivore loop, by
die agterdeur in oor die kombuis se sement vloer, onder die middeldeur deur tot
op die eetkamer se plankvloer, waar dit deur die groot splete onder die vloer
verdwyn, verder spoel en weer onder die fondament by die voordeur uitloop.
Weke na so’n reënt ruik die eetkamer en die voorhuis so muf soos ’n
grafkelder.
Met die gevolg dat ek daardie middag ook weer haastig voorom hardloop om
die kombuisdeur van buite met sakke en bakstene dig te maak, terugkom en die
middeldeur met strykkomberse en stronksakke toestop, en met ‘n emmer en ‘n
skepding regstaan. Die water wat dan insyfer jaag ons haastig met ’n besem in
‘n hoek vas, skep dit op en skiet dit by
die venster langsaan uit, sodat die stroom nie die plankvloer bereik nie.
Eindelik bedaar die weer en ek staan nog by die venstertjie en uitkyk na
die haelriwwe oor die gras, toe die eerste onheilsklop aan die bo-deur kom.
Daar staan die werfjongetjie tot oor sy enkels in die haelwater met ’n sinkbad
vol platgereënde hoenders.
Geskrik toe hy die hael op die sinkdak hoor,
uitgehardloop en in die koue verkluim.
“Maar hy weet van hoender,”sê hy “as ons hulle gou-gou met warm water
afspoel, dan partykeers kom hulle reg”
Hy gee hulle vir my aan, soos bossies blomme op stywe stele.
Ek raap die wasskottel op, gooi die ketel daarin leeg, dompel die eerste
kuiken daarin, spoel die modder uit sy verlepte vere, droog hom sommer met my
voorskoot af.
En so waarlik: hy begin te skop!
En toe ek hom op die vloer neersit, bly hy regop soos ‘n blompot staan.
Tog moontlik!
Toe ek die derde kuiken in die skottel het, kom die tweede klop aan die
deur en ‘n tweede bad vol hoenders. Ons pak hulle op soos miskoeke; ons sit al
wat leë kastrol is vol water op die stoof, ons stook die vuur met stronke en hy
dreun, en ons was hoenders…
Elke keer is daar maar weer ’n klop; weer ’n bad vol hoenders
Daar is later niks meer om mee af te droog nie en ek gaan haal haastig
my vrolik gestreepte uitsethanddoeke, en hang die ander voor die stoof om te
droog, of bruin te skroei, selde wat.
Ons pak koerante in die oond, sit party van die hopelooste gevalle
daarin om warm te word. Party haal ons deur. Hulle sit daar verslae oor wat
hulle getref het.
Vir die ander is dit helaas te laat en hulle lê stomend morsdood op ’n hoop
in die hoek.
Die kombuis is nie baie groot nie, die hoenders oor die tweehonderd. Alle
deure en vensters moet toebly, en die stoof ratel later van die hitte.
Ek is nat tot op my lyf; wanhopig en siek van treurigheid, was ek maar
hoenders!
Eindelik is alles dan klaar…
Die hele kombuis, van onder die tafel tot teen die deur, staan vasgepak
van die hoenders, en ’n onheilspellende hoop toring lyfhoog in die hoek.
Dis halfnege in die aand.
Ek weet nie waar my man is nie. Ek het hom sedert die onheilsklop op die
agterdeur nog met geen oog gesien nie.
Sit seker binne by brood en melk, maar van kosmaak was daar geen sprake
nie.
Ek gee die getroue werfjongetjie vir sy onderskraging tien dooie
hoenders present en stuur hom huis toe.
Nou begin ek by die hoop dooies.
Ek trek hulle vere, klaar losgestoom, af en haal binnegoed uit.
En nou, alleen by die lig van die paraffien lamp en verlos van die
angsvallige bedrywigheid,
herken ek hulle een-vir-een soos ek met hulle werk.
Hier is die outjie met die skewe vlerk, die een met die wit vlekkie by
die oor, die een wat so hard probeer het om te kraai, die een wat altyd die
vetergaatjies van my skoen wou uitpik,
en hier, stil en nou maar net ’n ou swart ou flenterkardoes, is Piet.
Ek huil!
Daar, eindelik, staan drie skottels vol bleek lyfies van hulle wat my so
sonnig, so bevattelik lief gehad het, my swakke pogings om vir nooitgekende moeders
plek vol te staan en so veel goeie trou, aanvaar het.
Dis seker naby elf uur. Ek weet ek kan die oorlewendes nie terugneem
hoenderhok toe nie; hulle sal net hier in die kombuis moet slaap.
Ek prop die laaste stronke in die stoof, kyk oor die swyende swart skare
en maak die middeldeur versigtig agter my toe.
Dis donker voor my en ek sien ’n flou skrefie lig onder ons toe kamerdeur.
Ek maak dit oop en staan in die deur. My goeie man lê onder die komberse in die
eilandjie van die paraffienlamp en lees; stil, weg van alles! Hy kyk op na my, druipend
nat, verwese gehuil en ryp gestoom in hoendermis en afval.
Dit was ’n strenge toets vir die liefde, hoe jonk en seker ook al:
niemand kan hom kwalik neem dat hy aarsel voor hy die deken vir my oopslaan nie.
“Ek het jou naghemp daar op die stoel by die deur gesit. Daar is warm
water in die fles by die skottel.
Maak jou bietjie skoon en kom lê, dan lees ek vir jou wat sê generaal de
Wet in hierdie boek oor die slag van Rooiwal.”
Nie ’n woord van troos oor my hoenders nie!!
Diep gekwets klim ek later by hom in, glad nie geïnteresseerd in wat
generaal de Wet oor enige iets te sê kan hê nie.
Toe hoor ek vir die eerste keer die gedreun van die spruit (rivier
overstroomt), ek hoor die gedrup van die dak en die yskoue asem van die deurhaelde
landskap buite, kom aan my wange vat. Daarmee saam ook baie ander dinge!
“Jou mielies, was jy daar?” vra ek bang.
Hy sit die boek neer. “Nee, ek weet mos!”.
Ek beur oor die geweldige lakenvlak wat ’n dubbelbed soms kan hê tot
teen hom vas. Ons lê in mekaar se arms. Weerloos, afsonderlik en tesame, teen
die meedoënlose wette van die natuur, waarin ons moet lewe, geluk vind en
geloof behou.
Die groot donker nag, die reuk van kneusing en pyn, die silwer
doodskleed, die invreting van die water. Dit alles lê myle wyd om ons heen gesprei.
So het ons aan die slaap geraak.
Toe ek die volgende oggend wakker word, is dit van iets vreemds, iets soos
’n koesterende rustigheid oor my, asof daar ’n seënende hand oor ons bed gestrek
is.
Ek lig my kop na een van die vreemdste gesigte wat ek ooit in my lewe
gesien het!
Bankvas, bo-oor ons op die kombers, bo-op die kas, die stoele, die hele
vloer vol, staan swart hoenders saamgedrom, wakker soos brandwagte, maar
roerloos. Asof hulle bang is om die stilte geweld aan te doen, staan hulle daar.
Waarskynlik het dit iets met die uitermate hitte in die kombuis en die
latere temperatuursdaling te doen gehad, dat die middeldeur se slot oopgegaan
het.
Hulle het die warmte van ons slaapkamer gevoel en daarheen versit.
Beslis ja! dit is al wat dit was, moes ek toegee, as ek aanvaar dat
hulle hoenders is…. maar nou was hulle níe,
hulle was mense, mý mense!
woensdag 6 januari 2016
KORTOM: 'n emmer tande vir 'n hospitaal holbekke
Let wel- engelse woorde en streektaal staan kursief.
1. Die storie in goeie Afrikaans
‘n Emmer tande vir ‘n hospitaal holbekke
In ’n hospitaal - waar krankheid
en ellende nie ontuis is nie - smaak dit my is snaaksigheid ook nie juis ’n
vreemdeling nie.
En snaaks is mos nêrens snaakser
as dáár waar hy nie verwag word nie. Veral as hy boonop sommer bloot net
gebeur, of onvermoeds gebeur laat word.
Iets van dié aard het daar
op ’n keer in ’n Randse hospitaal plaasgevind.
Daar daag ’n leerlingverpleegstertjie op. En hoe die prosedure presies werk, weet ek nie,
maar om haar touwys te maak, moes sy glo allerlei soorte werkies doen.
Dit moet saam met die
ander groentjies op ’n sekere vloer beddens opmaak, potte en panne leeg maak, waterglase
vol maak, en so aan.
So met verloop van tyd kom
daar nuwe en ingewikkelder opdragte by.
Op ‘n môre roep die ou hoofsuster
daar in een van die gange af : “Hêi, jy,”
-nursie-sus-en-so- kom hier!”
“Ja suster?” vra die leerlingverpleegstertjie.
“Vat nou hierdie vloer van
‘n kant af en maak al die mense wat valstande het, se tande skoon. Al die gange
s’n.”
En toevallig was daar op
dié vloer baie oumense.
En die verpleegstertjie
vaar ‘n gang daar af.
In die eerste kamer, of
saal, is daar 3 glase tande. Dié vat sy
soos ’n wafferse kelner wat sy storie met bierdra ken en stryk daarmee aan na
die kombuisietjie of wasplek, en sy
spring daar by die wasbak aan die tande.
Waarmee en hóé weet ek
nie, maar sy maak skoon en sy sit die stelle terug in die glase en gooi skoon
water in, en wikkel daarmee na hulle ou drie holbekbase toe.
In die volgende saal is daar ’n stuk of vyf mense met kunstande.
En dié klomp glase is toe
te veel om met een slag te dra. Maar die verpleegstertjie is ’n praktiese kind
en sy los hulle net so en sy begeef haar na die kombuis toe en kry daar ’n
emmer in die hande. Dié maak sy so amper halfpad vol water en sy’s weer die
gang af.
Die emmer sit sy voor die
deur neer en sy’s die saal daarin, en sommer so twee-twee dra sy die glase
tande daar uit en gooi die stelle in die emmer water en gaan sit die leë glase weer
by hulle-se base neer.
So maak sy saal vir saal
in die gang af leeg en pak daarna die sygange.
Na ’n ruk wil die emmer oorloop.
Sommer in die naaste badkamer gooi sy ’n klomp van die water af om plek te maak
vir nóg tande.
Uiteindelik het sy die
hele vloer se alle stelle tande in die emmer.
En dit was ook net-net of
die emmer was te klein.
In die waskamer tap sy ’n
klomp water in die bak en keer die emmer daarin om.
Dié maak sy op sy beurt so
’n kwart-vol skoon water en sit dit eenkant neer, en val met die skoonmaak weg.
Plaat vir plaat tande vat sy so ligweg in
die wasbak raak, en gooi dit in die emmer.
Nie lank nie, of die hele
emmer tande is skoon.
En toe sal die stomme kind
sien die een praktyk bots met die ander praktyk….
Waffer onderstel
pas by waffer bo-stel… en waffer heel stel by waffer bed in waffer
saal?
… en dan’s daar nog ’n
probleem: party mense het net bo- en ander net ondertande; party weer ’n halwe
plaat met hake en twee tande, of drie,
of vier of hoeveel tande dan ook. In wie se haasbekgetrekte mond pas wat?
Sy wonder nog “hoe nóú?”,
toe staan die ou hoofsuster langs haar.
“Het jy klaar met die
tande?”
“Ja, Suster, ek is klaar,
maar ek het nou moeilikheid. Ek verdwaal tussen hierdie klomp tande.”
“Nou wie’t so blerrie klomp tande in sy mond?”
“Dis die hele vloer s’n, Suster!”
Wat die hoofsuster hierna
gesê het pas nie juis by tande en monde nie. Maar daar was nie genade nie; die
ontbyt was op pad!
Hulle pak die hele
spulletjie tande op ’n tafel uit en probeer soek bo- en ondermaters wat by
mekaar pas.
Maar dis moeilik om uit te
maak watter groottes en skeeftes en kleure by mekaar hoort; dit wissel van
pêrelwittes tot pruimtwakbruines, van kleintjies soos ’n muis s’n tot by
beitels soos dié van ’n perd, van yslike bakke tot dié wat hoort by ’n verkrimpte
gesiggie.
Hulle kry ’n klomp
uitgesoek wat lyk na pare, en ’n groot klomp enkeles bly oor.
In ’n horde hospitaalglase
word hulle op ’n trolley gesit.
“Toe, stoot die spul van
saal tot saal en laat die mense self uitsoek, laat hulle kan eet; ek stuur die kos
op jou hakke agterna!”
En die verpleegstertjie
vlie(g) daar weg.
Daar word gekies, maar as
die een holbekmens nog spook om sy tande in te kry, skoert die verpleegstertjie
al na die volgende een toe.
Alles geskied in die haas.
En die mense kry kos en
hulle val weg.
Party worstel voort; party
ander haal die tande uit en ry- soos die Rehoboth-Basters in my wêreld sou sê -
op die rims.
Maar die borde was nog nie
behoorlik weg nie, toe begin lui die klokke.
Dit smaak omtrent na Oujaarsnag om twaalfuur uur in ‘n groot stad.
Die ou hoofsuster sê vir
die ander susters en die verpleegsters sy wil self die klagtes aanhoor en dan
verduidelik en besluit wat om te doen.
En sy loop ’n kamer in
waar twee omies lê.
Ja, waarmee kan sy help? Die
klok is mos gelui.
“Suster, wat met my tande
gebeur het, weet ek nie. Dit smaak my of ek vanmôre met ’n paar skeeftgetrapte
skoene probeer kou het”, beduie die een ou.
Die ander een sê: “Suster,
was myne maar soos ’n paar skeefgetrapte skoene. Ek het om my brekfiseiertjie ’n dans uitgevoer, jy
kan sê met ’n nommer-vyf-pantoffel en ’n nommer-elf-army-boot”.
“Haal uit!” sê die
hoofsuster. “Daar moet ’n fout gekom het.
Ek sal hulle nóu laat wegvat.”
Sy is nog aan die inloop
in die volgende saal, toe begin praat ’n ou tante al: “Ai my kind, ek was dan
nou net aan die beter word, en nou voel ek so mismoedig. Dis kompleet of my
bo-kop gekrimp het. My tandvleis kom nie in die gleuf van my tande in nie. Ek byt
al op die bo-plaat se verhemelte langs.”
’n Ander een kla dat sy
met haar onderkakebeen buite die stelletjie om byt.
“Suster, ek had aanmekaar die tande en die kos
deurmekaar, dit was op ’n nerf na, of ek sluk die hele spulletjie in.”
“Nee, daar’s fout!” beduie
die hoofsuster. “Gee net kans, dan kom die ding reg”.
In ’n ander saal het ’n ou
oom sy tande uit en hy korrel om te probeer uitmaak wat hy sien.
“Suster, ek het nie my
leesbril hier nie, maar dis die hardste eier wat ek in my leefdag geëet het. Ek
het ’n stuk tussen my tande ingebyt en ek kan hom nou wragtig nie uitkry nie”.
“Dis loutere goud, Oom!” sê
die hoofsuster ná sy self van naby gekyk het.
Die oubaas is daaroor meer
vies as wat hy sou wees as hy moes weet dat hy met geleende tande geëet het.
“Maar ek het mos nie gevra julle moet goud
daar insit nie?”
“Wag, Oom, dit kom nou-nou reg! Ek laat haal
die stukkie goud weer uit!”.
Die volgende kamer se patiënt
het nie die ontbyt heelhuids oorleef nie.
“Suster, jy moet vir my hier ’n dokter kry om my tong
te lap. Hy’s so toiingrig, soos ’n sak waarmee ’n klomp kleinhonde ’n nag
omgespeel het.
“Ek kon vanmôre byt soos
ek wil, maar dit bly verkeerd”.
Die suster beloof verligting!
Langsaan gaan dit insgelyks
nie beter nie.
“Suster, my troue ou
malers het vanmôre die gees gegee. Dit smaak my die nursie het hulle skoon gekook en toe in ’n trek neergesit laat
hulle kon afkoel! Kyk hoe oorhoeks is hulle. Ek kou dat ek bars, maar ek kry
nooit meer as net twee tande op ’n slag bo mekaar nie!”.
“Net ‘n bietjie geduld, en
die oorhoeksheid is daarmee heen!”, beduie die hoofsuster.
En so sluit die een treurmare
by die ander aan.
Een ou tante probeer haar mond
toe kry, maar sy bly glimlag van oor tot oor.
’n Ander se lippe vou
rolle voor sy nog die tande opmekaar het.
Nog een lyk of sy haar
kieste opgeblaas het.
’n Ander een se gesig is
skeef.
Een ou oom het niks in sy
mond nie.
“Waar is die tande dan
vanmôre, oupa?” wil die suster weet.
“Jy moet maar hier op die
vloer in die blik kyk. Ek het hulle weggesmyt! Ek het van die vervloekste goed
nog net pyn en smarte gehad van die dag dat ek hulle gekry het, maar vanmôre is
hulle meer erg. Toe sê ek: Dis die laaste, weg is julle! ”.
Sy ou kamermaat sê: “Ja,
en myne voel vanmôre soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek
is lus en raak van hulle ook ontslae”.
Nou ja, dit was al teen middagete
se stryk, toe spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om
vir party van die stelle tande base te kry. “
Toe sê die
leerlingverpleegster : “Suster, vandag het ek baie geleer! Ek sal môre slimmer
wees. Ek sal eers al die bo-tande was; dan kan ek mos op die ondertande pas waffer die regte is. En dan vat ek weer
die ondertande”.
“Ja” sê die ou hoofsuster, “ek het ook vandag iets
geleer, en dis dat jy liewer in ’n hotel moet loop werk soek, waar jy kan
skoene skoonmaak, want as hulle deurmekaar raak, hoef hulle darem nie ná elke aanpas
gewas te word nie!”.
2. Die storie soos dit
voorgelees word:
NB dit is geskryf deur iemand uit Suidwes, 'n streek waar afrikaans anders uitgespreek word, baie plat, en hulle ry op die klanke.
In ’n hospitaal - waar krankheid en ellende nie ontuis is nie -
smaak dit my is snaaksigheid ook nie juis ’n vreemdeling nie.
En snaaks is mos nêrens snaakser as daar waar hy nie verwag
word nie; veral as hy boonop sommer bloot net gebeur, ofonver—
moeds gebeur laat word.
Iets van die aard het daar op ’n keer in ’n Randse hospitaal
plaasgevind.
Daar daag ’n leerlingverpleegstertjie op. En hoe die prosedure
presies werk, weet ek nie, maar om haar touwys te maak, moes sy
glo allerlei soorte werkies doen.
Dit moet saam met die ander groentjies op ’n sekere vloer beddens
opmaak, potte en panne leeg maak, waterglase vol maak, en so
aan.
En so met verloop van tyd kom daar nuwe en ingewikkelder op-
dragte by.
Op ’n more roep die ou hoofsuster daar in een van die gange af:
“Hêi, jy,” - nursie-sus-en-so- “kom hier.”
“Ja, Suster?” vra die leerlingverpleegstertjie.
“Vat nou hierdie vloer van ’n kant af en maak allie mense wat
valstanne het, se tanne skoon. Allie gange s’n.”
En toevallig was daar op die vloer baie oumense.
En die verpleegstertjie vaar ’n gang daar af.
In die eerste kamer of saal is daar drie glase tande. Dié vat sy soos
’n wafferse kelner wat sy storie met bierdra ken en stryk daarmee
aan na die kombuisietjie of wasplek en sy spring daar by die was-
bak aan die tande. Waarmee en hóé weet ek nie, maar sy maak
skoon en sit die stelle trug in die glase en gooi skoon water in en
wikkel daarmee na hulle ou drie holbekbase toe.
In die volgende saal is daar ’n stuk of vyf mense met kunstande.
En dié klomp glase is toe te veel om met een slag te dra.
Maar die verpleegstertjie is ’n praktiese kind en sy los hulle net so
en sy begeef haar na die kombuisie toe en kry daar ’n emmer in die
hande. Dié maak sy so amper halfpad vol water, en sy’s weer die
gang af.
Die emmer sit sy voor die deur neer en sy’s die saal daar in en
sommer so twee-twee dra sy die glase tande daar uit en gooi die
stelle in die emmer water en gaan sit die leë glase weer by hulle-se
base neer.
So maak sy saal vir saal in die gang af leeg en pak daarna die
sygange.
Na ’n ruk wil die emmer oorloop.
Sommer in die naaste badkamer gooi sy ’n klomp van die water af
om plek te maak vir nog tande.
Uiteindelik het sy die hele vloer se alle stelle tande in die emmer.
En dit was ook net-net of die emmer was te klein.
In die waskamer tap sy ’n klomp water in die bak en keer die
emmer daarin om.
Dié maak sy op sy beurt so kwart-vol skoon water en sit dit een-
kant neer, en val met die skoonmaak weg.
Plaat vir plaat tande vat sy so ligweg in die wasbak raak, en
gooi dit in die emmer.
Nie lank nie of die hele emmer tande is skoon.
En toe sal die stomme kind sien die een praktyk bots met die
ander praktyk. .
Waffer onderstel pas by waffer bo-stel en waffer heel stel by waffer
bed in waffer saal?
En dan’s daar nog ’n probleem: party mense het net bo- en ander
net ondertande; party weer ’n halwe plaat met hake en twee
tande, of drie, of vier of hoeveel tande dan ook. In wie se haas-
bekgetrekte mond pas wat?
Sy wonder nog hoe nóú, toe staan die ou hoofsuster langs haar.
“Het jy klaar met die tanne?”
“Ja, Suster, ek is klaar, maar ek het nou moeilikheid. Ek verdwaal
tussen hierdie klomp tanne.”
“Nou wie’t so ’n bleddie klomp tanne in sy mond?”
“Dis die hele vloer s’n, Suster.”
Wat die hoofsuster hierna gesê het, pas nie juis by tande en
monde nie. Maar daar was nie genade nie; die ontbyt was op pad.
Hulle pak die hele spulletjie tande op'n tafel uit en probeer soek
bo- en ondermaters wat by mekaar pas.
Maar dis moeilik om uit te maak watter groottes en skeeftes en
kleure by mekaar hoort; dit wissel van pêrelwittes tot pruimtwakbruines, van kleintjies soos'n muis s'n tot by beitels soos dié van 'n perd, van yslike bakke tot dié wat hoort by'n verkrimpte gesiggie.
Hulle kry'n klomp uitgesoek wat lyk na pare, en'n groot klomp
enkeles bly oor.
In 'n horde hospitaalglase word hulle op'n trollie gesit.
“Toe, stoot die spul van saal tot saal en laat die mense self uitsoek,
lat hulle kan eet; ek stuur die kos op jou hakke agterna.”
En die verpleegstertjie vlie daar weg.
Daar word gekies, maar as die een holbekmens nog spook om sy
tande in te kry, skoert die verpleegstertjie al na die volgende een
toe.
Alles geskied in die haas.
En die mense kry kos en hulle val weg.
Party worstel voort; party ander haal die tande uit en ry - soos die
Rehoboth-Basters in my wêreld sou sê - op die rims.
Maar die borde was nog nie behoorlik weg nie, toe begin lui die
klokke. Dit smaak omtrent na Oujaarsnag om twaalfuur in 'n
groot stad.
Die ou hoofsuster sê vir die ander susters en die verpleegsters sy
wil self die klagtes aanhoor en dan verduidelik en besluit wat om
te doen.
En sy loop'n kamer in waar twee omies lê.
Ja, waarmee kan sy help? Die klok is mos gelui.
“Suster, wat met my tanne gebeur het, weet ek nie. Dit smaak my
of ek ve'môre met'n paar skeefgetrapte skoene probeer kou het,”
beduie die een ou.
Die ander een sê: “Suster, was myne maar soos 'n paar skjeefgetrapte skoene. Ek het om my brekfiseiertjie 'n dans uitgevoer, jy
kan sê, met 'n nommer-vyf-pantoffel en 'n nommer-elf-army-
boot.”
“Haal uit!” sê die hoofsuster. “Daar moet 'n fout gekom het; ek sal
hulle nóú laat wegvat.”
Sy is nog aan die inloop in die volgende saal, toe begin praat 'n ou
tante al:
“Ai, my kind, ek was dan nou net aan die beter word, en nou voel
ek so mismoedig. Dis kompleet of my bo-kop gekrimp het. My
tandvleis kom nie innie gleuf van my tanne in nie; ek byt al op die
bo-plaat se verhemelte laans.”
'n Ander een kla dat sy met haar onderkakebeen buite die stelle-
tjie om byt.
“Suster ek had aanmekaar die tanne ennie kos deurmekaar. Dit
was op nerf na of ek sluk die hele spulletjie in.”
Nee, daar's fout, beduie die hoofsuster. Gee net kans, dan kom die
ding reg.
In 'n ander saal het 'n ou oom sy tande uit en hy korrel om te pro-
beer uitmaak wat hy sien.
“Suster, ek het nie my leesbril hier nie. Maar dis die hardste eier
wat ek in my leefdag geëet het. Ek het 'n stuk tussen my tanne in-
gebyt en ek kan hom nou wragtag nie uitkry nie.”
“Dis loutere goud, Oom,” sê die hoofsuster ná sy self van naby
gekyk het.
Die oubaas is daaroor meer vies as wat hy sou wees as hy moes
weet dat hy met geleende tande geëet het.
“Maar ek het mos nie gevra julle moet goud daar insit nie.”
“Wag, Oom, dit kom nou-nou reg; ek laat haal die stukkie goud
weer uit.”
Die volgende kamer se pasiënt het nie die ontbyt heelhuids oorleef
nie.
“Suster, jy moet vir my hier 'n dokter kry om my tong te lap. Hy”s
so toiingrig soos 'n sak waarmee 'n klomp kleinhonne 'n nag
omgespeel het.
“Ek kon vammôre byt soos ek wil, maar dit bly verkeerd.”
Die suster beloof verligting.
Langsaan gaan dit insgelyks nie beter nie:
“Suster, my troue ou malers het ve'môre die gjees gegjee.
“Dit smaak my die nursie het hulle skoon gekook en toe in 'n trek
neergesit lat hulle kon afkoel.
“Kyk hoe oorhoeks is hulle. Ek kou lat ek bars, maar ek kry nooit
meer as net twee tanne op 'n slag bo mekaar nie.”
Net 'n bietjie geduld en die oorhoeksheid is daarmee heen, beduie
die hoofsuster.
En so sluit die een treurmare by die ander aan.
Een ou tante probeer haar mond toe kry, maar sy bly glimlag van
oor tot oor.
'n Ander se lippe vou rolle voor sy nog die tande op mekaar het.
Nog een lyk of sy haar kieste opgeblaas het; 'n ander een se gesig
is skeef.
Een ou oom het niks in sy mond nie.
“Waar is die tanne dan vanmôre, oupa?” wil die suster weet.
“Jy moet maar hier op die vloer in die blik kyk. Ek het hulle
weggesmyt. Ek het vannie vervloekste goed nog net pyn en smarte
gehad vannie dag lat ek hulle gekry het. Maar vanmôre is hulle
meer erg. Toe sê ek: Dissie laaste; weg is julle.”
Sy ou kamermaat sê: “Ja, en myne voel ve'môre soos twee bekrekkers wat ek hier glyk in my mond het. Ek is lus en raak van hulle ook ontslae.”
Nou ja, dit was al teen middagete se stryk, toe spook die hoofsuster en die leerlingverpleegster nog steeds om vir party van die stelle tande base te kry.
Toe sê die leerlingverpleegster: “Suster vandag het ek baie
geleer. Ek sal môre slimmer wees. Ek sal eers allie bo-tanne was;
dan kan ek mos op die onnertanne pas waffer die regte is. En dan
vat ek weer die onnertanne.”
“Ja” sê die ou hoofsuster, “ek het ook vandag iets geleer, en dis
lat jy liewer in 'n hotel moet loop werk soek, waar jy kan skoene
skoonmaak. Want as hulle deurmekaar raak, hoef hulle darem nie
ná elke aanpas gewas te word nie.”
Abonneren op:
Posts (Atom)